Suid-Afrika is weer vasgevang in ‘n morele (Sataniese) paniek. Die soort paniek wat ons in die laat 80’s laas gesien het, toe Rodney Seale, John Gardiner, Kobus Jonker, en hul trawante nog hul rondtes by skole gedoen het om kinders by ACSV bang te praat met boeke en pamflette, teen “die gevaar van rock musiek en Satanisme”. Mens sou dus dink, dat in 2024, ‘n samelewing sou bestaan wat al weggedoen het met dié uitgedateerde persepsies oor populêre kultuur, musiek, en kunstenaars, wat die Afrikaanse jeug wil besoedel met subtiele aanhitsing tot seks, dwelms, geweld, en goddeloosheid in hul lirieke -en konserte. Toe nie. Die naweek, bykans net ná Paasfees, is Suid-Afrika (weereens) in rep-en-roer oor ‘n kunstenaar se kwansuise “duiwelaanbiddery” en “heksery”, tydens konserte -en musiekvideos.
Hierdie keer is dit Taylor Swift, van alle kunstenaars, wat skielik nou persona non grata is. Die Afrikaner-Christen-publiek se hoof opponent, wat binnekort Suid-Afrika toe kom vir ‘n ekonomies belowende konsert, tydens haar Eras-wêreldtoer! So, waar het Swift dan so verkeerd geloop?